Toksoplasmose en katte

 

Inleiding

Vroeër jare het medici swanger vroue aanbeveel om hul katte liewers te laat uitsit tydens swangerskap, om te verhoed dat hul toksoplasmose tydens swangerskap opdoen. Die Wetenskap het uiteindelik bewys om katte aan te hou verhoog nie noodwendig die risiko van besmetting nie.

Dit sou n ramp gewees het as daar nie huis en vrylopende katte gewees het wat nie rot- en muisgedraagde plae skadelik vir die mens beheer het nie.  Katte is baie geliefde en gewilde troeteldiere wat ‘n baie belangrike rol speel in die mens se geestesgesondheid.

In die stedelike omgewing speel hul ‘n baie meer as belangrike rol waar hul rotte en muise, asook ander draers van bosluise, vlooie en skadelike bakterie, protosoa soos Toxoplasma gondii wat hul voëls en ander prooi besmet het, van die mens en sy kinders af weghou.

Draers van Toksoplasmose

Toksoplasmose is ‘n soönotiese siekte (oordraagbaar tussen mens en dier) wat wêreldwyd voorkom. Studies in Suid Afrika het bevind dat tussen 29% en 47% van mense teenliggaampies ontwikkel het teen Toxoplasma gondii. In Frankryk is dit so hoog soos 84%.

Katte is in die Literatuur wel die belangrikste gasheer van die protosoa parasiet Toxoplasma gondii. Maar so is daar ander soogdiere naby aan die mens wat ook belangrike draers is hiervan. ‘n Protosoa is ‘n eensellige organisme.

Risiko by verwagtende vroue en mense met HIV infeksies

Besmettings van die parasiet kan lei tot stilgeboorte en aborsies by verwagtende vroue. Kinders wat wel gebore word, kan met ernstige disfunksionele organe en siektes gebore word soos epilepsie, vergrote lewer, disfunksionele pankreas, depressie en milt-verwante siektes.  Dit word genoem “Kongenitale toksoplasmose”

Kliniese tekens van Toxoplasma gondii

Baie kinders toon geen simptome tydens hul geboorte en hul peuter en kleuterjare nie. Eers in hul latere tienerjare word simptome soos gehoorverlies, psigosomatiese siektes en ooginfeksies gevind.  Ander tekens is vergrote limfkliere, spierpyne, hoofpyne, moegheid of lusteloosheid. In normale omstandighede wys mense geen simptome van besmetting nie.

toxoplasma_gondii_life_cycle_phil_3421_lores

Swangerskap en swanger vroue

Sou ‘n vrou vir die eerste keer geïnfekteer word, voor of tydens swangerskap, is dit moontlik dat sy geen tekens van die besmetting sal toon nie. Maar, dit beteken nie dat sy hiermee nie die infeksie na haar ongebore kind kan oordra in kongenitale toksoplasmose nie. Vele vroeë geïnfekteerde moeders kan ook stilgeboorte of misgeboorte beleef.

HIV pasiënte en mense met ‘n Immuungebreke en of laer weerstand, of medikasie wat die immuunsisteem se reaksies moet onderdruk, is baie vatbaar vir toksoplasmose. Vroue wat swangerskap beplan in bogenoemde gevalle sal wys wees om hulself vir toksoplasmose te toets.

Belangrik om te weet

Daar is baie goeie toetse vir toksoplasmose. Sou in ‘n vrou /persoon teenliggaampies gevind word, wys dit dat hul voorheen aan die parasiet blootgestel is en dat hul immuniteit verwerf het teen die Toxoplasma gondii parasiet. Sou hul opnuut besmet word tydens swangerskap, sal hul ongebore baba NIE deur die parasiet besmet word nie.

Besmetting van katte

Katte raak besmet in die eerste ses maande van hul lewens wanneer hul knaagdiere soos rotte en muise en voëls vang en vreet en die Toxoplasma gondii protosoa besmet is. Katte kan ook in grond waar hul krap besmet raak as hul blootstelling kry aan die oösiste in die uitskeiding van ander  geïnfekteerde katte deur hul mis.

Die toksoplasmose parasiet voltooi nie sy lewensiklus in die prooi van katte  nie, maar in die maagwande van die kat waar dit oösiste vorm wat deur die kat se mis uitgeskei word.

Katte skei oösiste vir ongeveer 3 weke in hulle mis uit nadat hulle die infeksie opgedoen het. Daarna word hul immuun. Hierdie oösiste gaan eers deur ‘n proses van sporulasie (vorming van spore) vir ongeveer drie dae, voordat die protosoa parasiet besmetlik raak.

Katte kan weer tydens hul leeftyd besmet raak met die parasiet, maar na immuniteit baie minder oösiste uitskei. Grond asook sandbakke van katte sal besmet raak en kan sowat ‘n jaar oorleef en die mens kan infekteer.

Opsommend

  • Oösiste word nie op n kat se pels gedra nie.
  • Binnenshuise katte kan nie maklik met die toksoplasmose parasiet besmet raak nie.
  • Die mens kan nie toksoplasmose aan ‘n ander mens oordra nie.

Interessant van besmette rotte en muise is dat hul baie skugter raak wanneer hul besmet geraak het. Die Literatuur wil die hê dat dit ‘n evolusionêre taktiek is van die parasiet om te oorleef in die Natuur. In hierdie verband speel katte, slange en uile ‘n uiters belangrike rol in die beheer van die en verskeie ander soönotiese siektes wat deur hierdie diere aan die mens oorgedra kan word.

Besmetting by die mens

In die VSA het meer as 60 miljoen mense positief getoets teen die parasiet, wat met ander woorde teenliggaampies wys in toetse.

Die grootste risiko by besmetting van toksoplasmose by die mens is by die eet van rou vleis wat nie goed gaar gemaak is nie. Beeste word nie deur die parasiet besmet nie. Skape wel. Hul word besmet deur voer en water wat met mis besmet word. Wind speel ook hierin n baie belangrike rol in die verspreiding hiervan.

Besmetting by skape asook varke

In Australië, Nieu Seeland, Britse Eilande en Noorweë word toksoplasmose verantwoordelik gehou vir tot 20% van stilgeboortes en aborsies by skaap en boktroppe. Aborsie vind plaas wanneer die fetus (plasentitus) infekteer word in die eerste tweede weke van hul dragtigheid. Toksoplasmose kom in byna alle warmbloedige spesies voor. Sommige is net meer vatbaar vir toksoplasmose.

Rotte, beeste, perde en buffels toon baie weerstandigheid teen die parasiet, wyl katte die teenoorgestelde is en baie vatbaar vir besmetting. Honde wat onder stres is van bosluiskoors,  bosluisbytkoors en honde siekte (distemper) mag hul meer vatbaar maak vir toksoplasmose. Mense wat besmet is moet weet dat die toksoplasmose parasiet se oösiste enige gedeelte van die liggaam kan affekteer.  Spiere, brein, die hart.

‘n Gesonde immuunsisteem sal die parasiet onderdruk en die mens en sy diere gesond hou. Verswak jou gesondheid en gebeur iets wat die immuunsisteem onder druk plaas, kan ‘n herlewing veroorsaak van die parasiet in die menslike liggaam ernstige nagevolge hê.

Laastens

Sandbakke van katte moet veilig gehanteer word en nie in die tuin begrawe word waar dit onveilig kan wees vir ander nie.

Bronnelys

Torrey, E.; Simmons, Wendy; Yolken, Robert (June 2015). “Is childhood cat ownership a risk factor for schizophrenia later in life?”. Schizophrenia Research 165 (1): 1–2. doi:10.1016/j.schres.2015.03.036

lFlegr Jaroslav. “Effects of Toxoplasma on Human Behavior”. Schizophrenia Bulletin 33 (3): 757–760. doi:10.1093/schbul/sbl074PMC 2526142.PMID 17218612.

Advertisements

Soönoses 1: Wurms by honde en mense

Wurms by honde en mense

Eginokokkose, hidatidose of hondeblaaswurmsiekte
1. Die baie klein volwasse lintwurm, Echinococcus granulosis, is ongeveer 5 mm lank en het 3 tot sewe segmente en word in die derm van honde en ander karnivore gevind. Die laaste segment wat honderde eiertjies bevat, breek af as dié volwasse is en word in die mis uitgeskei.
2. Die eiertjies kan in water en voer beland en moet deur ‘n tussengasheer (bv. skaap, bees, vark, hond, bok) ingeneem word.
3. Die eiertjie broei in die dermkanaal van die gasheer uit, die larwes penetreer die dermwand, beland in die bloedstroom en word eerstens in die lewer vasgevang.
4. Ander larwes beweeg tot in die longe, brein, bene, spiere, ens. Hier ontwikkel die parasiet in ‘n blaaswurm (sist) wat ‘n hidatied genoem word.
5. Hierdie blase bevat honderde lintwurmkoppe. Indien ‘n karnivoor rou of gedeeltlik gekookte lewer, longe ens. wat hierdie blase bevat, vreet, sal elkeen van die lintwurm koppies in ‘n volwasse lintwurm ontwikkel.
6. Wanneer ‘n hond ontlas, kan van die lintwurmeiertjies aan die haarkleed vassit. Die hond lek homself en wanneer die mens ‘n hond hanteer of die hond jou lek, kan jy so ‘n eiertjie deur jou mond inneem.
7. Eiertjies kan ook aan die pote van honde vasheg en wanneer die dier teen jou opspring, kan jou hande besmet raak. Vlieё kan ook die eiertjies oordra van hondemis na voedsel of water.
8. Mense wat met eginokokkus-lintwurmeiertjies besmet raak, ontwikkel ook blaaswurms (hidatiedsiste) soos hierbo beskryf.
9. Van die siste kan liters vloeistof bevat. Simptome ontwikkel deurdat druk op die omliggende weefsel (lewer, brein, longe ens.) ontwikkel.
10. Simptome ontwikkel oor jare en kan o.a. die volgende wees: vergrote buik, moeilike asemhaling, spontane frakture, senuweesimptome en kan selfs tot die dood lei. As die sist bars, kan fatale skok ontstaan.
11. Spesialiste sal die siste met skandering kan identifiseer en op behandeling en chirurgiese optrede besluit.
12. Daar word bereken dat daar ongeveer 100 gevalle van hondeblaaswurmsiekte per jaar in Suid-Afrika voorkom.

Voorkoming en beheer van die siekte
1. Honde moet gereeld (gemiddeld 3 tot 4 keer ‘n jaar) ontwurm word met ‘n middel (prasikwantel) wat effektief teen Echinococcus granulosis is.
2. Moet nooit rou afval aan honde voer nie.
3. Slagtings van diere moet onder gekontroleerde omstandighede plaasvind en waar siste gevind word, moet hulle nie oopgesny word nie. Die hele orgaan moet afgekeur en verbrand word. Oppas vir begrawe, want die orgaan kan weer deur honde oopgekrap en gevreet word.
4. Die karkasse van dooie diere moet so gou moontlik verbrand of diep begrawe word.
5. Handhaaf goeie higiёne. Was hande goed nadat met honde gewerk was, om te verhoed dat lintwurmeiers ingeneem word.
6. Inligting oor die gevaar van hondeblaaswurmsiekte moet aan werkers op plase, asook aan die algemene publiek oorgedra word.

Bron:
1. Van den Heever, L.W. en Du Preez, J.H. 1992 Soönoses: Dieresiektes en die mens. Butterworths.
2. Ongedateerde aantekeninge deur DRS. Faffa Malan en Sunelle Strydom

Soönoses 4. Toksoplasmose

Toksoplasmose

Toksoplasmose word veroorsaak deur ‘n protosoa, Toxoplasma gondii. Katte raak dikwels besmet as hulle knaagdiere (rotte en muise) vreet wat met Toxoplasma besmet is. Katte skei oösiste vir ongeveer 3 weke in hulle mis uit nadat hulle die infeksie opgedoen het, waarna hulle immuun raak. H

ierdie oösiste moet eers ‘n proses van sporulasie (vorming van spore) ondergaan, ongeveer 3 dae, voor hulle besmetlik raak. Mense wat in aanraking met katsandbakke kom of katmis in sandputte en dan sodoende oösiste inneem, kan besmet raak. Swanger vroue kan die besmetting aan die fetus oordra.

Simptome by die mens
Gewoonlik geen tekens, maar vergrote limfkliere, koors, asemhalingsprobleme, senuweesimptome en letsels van die oё mag ontwikkel. As die moeder besmet raak tussen 2 en 6 maande van swangerskap kan die fetus besmet raak en die fetus mag afsterf, geaborteer raak en daar mag letsels van die oё en brein ontwikkel. In sekere gevalle mag simptome eers na geboorte sigbaar word.

Voorkoming en beheer
Swanger vroue moet veral versigtig wees vir toksoplasmose. Dra handskoene wanneer met sand, grond en katsandbakke gewerk word. Die oösiste mag onder die naels inkom en dan later in die mond beland.

  • Vermy kontak met katmis en sandbakke. Katmis moet in die toilet afgspoel word.
    Was groente af voordat dit geёet word

Soönoses 3. Hondsdolheid

Hondsdolheid

Hondsdolheid is ‘n dodelike virussiekte wat oorgedra word van diere na mense. Diere wat hondsdolheid het, se geaardhede verander: mak diere word wild en wilde diere word mak.
Mense raak besmet wanneer die virus wat in die besmette dier se speeksel voorkom die liggaam binnedring deur ‘n bytplek, seerplek of slymvliese.

Wat moet gedoen word as jy deur ‘n verdagte dier gebyt word?
• Daar moet probeer word om die verdagte dier te isoleer sodat die dier nie kontak met ander mense of diere kan hê nie – moet egter nie die risiko neem om die hond te probeer isoleer en sodoende gebyt te word nie. Wilde diere moet geskiet word, nie in die kop nie want die brein is nodig vir diagnostiese doeleindes.

• Verwittig jou naaste Staatsveearts of veearts van die geval wat die nodige monsters vir die nodige laboratoriumtoetse sal neem.
• Beskou elke byt deur ‘n hond wat nie uitgelok is nie, as ernstig.
• Indien moontlik laat die bytplek vrylik bloei sodat die virus uitgewas kan word.
• Was die wond ‘n paar keer uit met seep en water
• Gaan sien ‘n medikus, wat met intensiewe voorkomingsbehandeling sal begin, so gou moontlik.

Voorkoming en beheer
Hondsdolheid is ‘n beheerde siekte in terme van die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) en enige verdagte of bevestigde hondsdolheidgeval moet onmiddellik aan u naaste Staatsveearts gerapporteer word. Alle honde moet gereeld teen hondsdolheid ingeёnt word.

Soönoses 2. Ingewandsdwaalwurm

Spoelwurms

Wanneer mense spoelwurmeiers van honde en katte (Toxocara canis, T. cati en Toxascaris leonina) inneem wat besmetlike larwes bevat, migreer hierdie larwes in die interne organe (bv. lewer en milt) asook weefsels (spiere) sonder om in volwasse wurms te ontwikkel. Die larwes veroorsaak weefselskade.

Voorskoolse kinders is veral vatbaar omdat hulle besmette voorwerpe in hulle mond mag plaas. Wees versigtig wanneer wurmbesmette lakterende tewe en hulle welpies hanteer word.

Simptome in mense
Nie-spesifieke simptome soos koors, spierpyne, hoes, asma en eetlusverlies word ondervind. Afhangende van watter orgaan (lewer, longe, oog, brein ens.) aangetas is, word verskeie ander simptome ervaar.

Voorkoming en beheer
• Beoefen goeie persoonlike higiёne soos om die hande te was voor etes.
• Voorkom dat veral kinders kontak het met die mis van honde en katte
• Ontwurm jou honde en katte gereeld. Bespreek die ontwurmingsprogram met jou veearts
• Hou honde en katte uit areas waar kinders speel.
• Verskaf inligting aan die publiek oor die gevare van ingewandsdwaalwurm.

SOÖNOSES 6: ANDER MINDER BEKENDE SOÖNOSES

Ander soönotiese siektes waar honde en katte betrokke by kan wees, is:

• Aspergillose (swam infeksie as gevolg van fungi soos die Aspergillus fumigatus)
• Campylobacter-besmetting (rou groente ens)
• Giardiose (parasitiese siekte as gevolg van ‘n spysverteringstelsel flagellaat oerdier)
• Histoplasmosis (inaseming van spore van ‘n swam dikwels gevind in voël/vlermuis mis)
• Kandidiase (Candida albicans infestasie – sproei)
• Katkrapsiekte
• Kolibasilose (Escherichia coli)
• Leptospirose (ook bekend as ‘field fever’, ‘rat catcher’s yellows’, en ‘pretibial fever’)
• Nokardiose (plaaslike – vel, longe, brein – of verspreide bakteriële infeksie)
• Q-koors (kan opgedoen word van bosluisbyt) en
• Skurfte (kan veroorsaak word deur die skurftemyt Sarcoptes scabiei)

Bron:
Van den Heever, L.W. en Du Preez, J.H. 1992 Soönoses: Dieresiektes en die mens. Butterworths. ISBN 0409 11101 5. Geskryf deur: drs. Faffa Malan en Sunelle Strydom 18 Januarie 2010.
Pierre van Niekerk © 2015