DIATOMIET

Hierdie skrywe is ‘n persoonlike studie en ’n versameling gedagtes van wetenskaplikes wat ook uitgedaag word oor die toevoeging van diatomiet in hondekos as vulproduk en die beweringe wat rondom dit gemaak word rakende bosluis- en wurmbeheer by wild en vee.

Inleiding: Eienskappe van Diatomiet
Die Literatuur stel dit dat diatomiet se chemiese samestelling uit 86% silika bestaan, sowat 5% sodium, 3% magnesium en sowat 2% yster. Diatomiet is versteende plantaardige alg wat in verskeie vorme op land en see voorkom en fossilleer het en hoofsaaklik in twee verskillende vorme voorkom.

Die beste bydrae wat hierdie diatomiet kan meebring rakende parasietbeheer, is dat dit meganies as ‘n skuurder kan dien, soos puimsteen wat mense gebruik om hul hakskene mee te skuur. Daar is geen ander waarde en/of eienskappe in die produk te vind nie.

Die volgende is bekend oor diatomiet
* Albert Nobel het diatomiet gebruik om nitrogliserien te stabiliseer weens diatomiet se absorpsievermoëns en het dinamiet in 1866 as kombinasie van die twee produkte gepatenteer.

* Die WNNR het bevind dat diatomiet weens sy absorpsievermoëns as filterprodukte gebruik kan word by swembaddens, omdat hul deurlaatvermoë so uitstekend is. Dit is ook konstant en kan as produk bokant filterpapier verkies word.

* In voedsel word dit gebruik as filter by heuning, strope en suikers en word ook by wyn en bier se filterprosesse suksesvol gebruik.

* Industrieël word dit in sepe, papier, keramiek en as skuurskoonmaakmiddels soos Vim en deesdae in sekere handsepe gebruik. Dit word ook in metaalpolitoer en tand skoonmaak produkte gebruik.

* Diatomiet word by salonne gebruik as gesigskuurmiddel vir mense met aknee en ander velprobleme.

Diatomiet en parasietbeheer
Die afgeleide stelling in dieregesondheid en parasietbeheer is dan die volgende:

* Die enigste bydrae wat diatomiet kan lewer, is as ‘n insektisiede, deurdat dit fisiologiese absorpsievermoëns het (let wel, as insektisiede alleen).

* Bosluise hoort in die Arachnida groep van diere en is nie insekte nie, dit is ‘n agtpotige dier. Hul metabolisme, sel en velstruktuur funsioneer heel anders.

* Diatomiet behoort slegs die lipiede van insekte se vel – met ander woorde die vetlagie op ‘n insek se vel – te versteur, wat een van twee dinge kan doen:

a. Dit behoort weens die waterstofatoom kwaliteite van diatomiet, water/vet/vloeistof te wil aantrek/absorbeer en hierdie aksie behoort in normale omstandighede die insek te dehidreer.

b. Tweedens, dalk het diatomiet ‘n vetoplossingsvermoë (soos skottelgoed seep) wat sal veroorsaak dat die insek weens die versteurde vetlagie op sy vel, sal versmoor. Dis dieselfde as mens skottelgoed seepwater op graskrieke uitgooi of op plantluise spuit, dan vrek hulle weens versmoring omdat die seep die vetlagies tussen die longblaadjies opgelos het en dié dan vashaak aan mekaar (leketaal).

c. Dit sal nie by ‘n bosluis sommer maklik kan gebeur nie.

d. Die Wet wat hier dalk nie reg verstaan word nie is Fick se Wet van Diffusie, waar hulle reken dat die insek sal doodgaan (heeltemal dehidreer) weens die verskil in waterdruk tussen die selmembrane van die insek en die absorpsievermoë van diatomiet.

Diatomiet in bosluis of wurmbeheer
1. Diatomiet kan met hierdie eienskappe as draer, op sy beste gebruik word as draer waarby doodmakende aktiewe toegevoeg moet word om die teiken parasiet se senustelsel, bloedsomloop, metabolisme of asemhalingstelsel, senupunte of neurone te ontwrig.

2. Dit moet ook in proporsionele hoeveelhede bereken en toegedien word om effektief te wees om weerstandigheid teen die aktiewe te voorkom.

3. Niks kan bosluisweerstandigheid ooit verhoed nie, maak nie saak wat die mens ook al uitdink nie.

Die elemente van diatomiet het nie daardie eienskappe nie. Silika, yster, sodium of die magnesium gaan nie ‘n indrukwekkende bydrae lewer nie. Die veronderstelling is dus dat sou laasgenoemde wel absorbeer en opgeneem word in die liggaam, bly daar net silika oor. Daar is niks anders oor nie.

Silika is ‘n dooie produk met geen ander nuttige funksie nie. Sou dit met vog van soorte versadig word in ‘n vogtige/humiede omgewing, of opgeneem word om deur die maag en hul dermkanale deur te beweeg vir uitskeiding, wonder ek nou verder die volgende:

* In die normale metabolisme moet dit weens diatomiet se absorpsievermoë aan die fermentasie proses deelneem, dit uitdroog en vashaak en met die metabolisme van die dier gewoon uitskei. Die moet nou iewers in die melkpens gebeur.

* Watter impak het hierdie diatomiet skuurvermoë aan die dermwande, wat maar in verhouding baie naby is aan die selwande van helminte en/of ander slymgewende of interne parasiete? Skuur dit nie die wande ook met dieselfde aksie nie en sal dit nie dermkanaal infeksie veroorsaak nie? Wat maak dit aan die hardheid van mis en dan aan insekte soos miskruiers?

  • Die vraag is nou verder – watter effek het dit op nuttige insekte?
    Het die diatomietprofete al geakkrediteerde navorsing en bewyse daarvan dat dit wel omgewingsvriendelik is? Navorsing wat gedoen is op die aannames dat diatomiet intestinale parasiete (wurms) negatief beinvloed het ‘n moontlike 20% verbetering getoon op skape.
  • Dit kan weens sy uitdrogingsfaktore ook moonlik ‘n effek hê op insekte, wanneer die stof moontlik in hul longe kan inkom en daar verdroging veroorsaak. Op organismes soos bosluise kan tans nie gevind word waar die mense wat die produk se aannames verkondig, meen en reken wat die effek is nie.
  • Watter aanames en gronde daar gevind word om diatomiet as produk in hondekos te gebruik, is eweeens duister. Voedingswaarde het dit nie en bes moontlik om verdroging van kos te bewerkstellig. Watter impak dit op die slyt van tande het is ook onbekend en of dit gereken word dat dit as tande skoonmaakmiddel gebruik kan word.
  • Laastens, watter gesondheidsrisiko hou diatomiet vir mense in? Diatomiet is weens sy fossielstatus gekristalliseer en dit is verharde stof en klein fossiele wat opgeskop word, wat ingeasem word.
  • Met die nou bekende eienskappe en vertrekpunte van silika moet diatomiet of sy stof iets soos Grinder’s se Siekte veroorsaak. Daar is ook so iets soos Potters’ Rot.
  • Die absorpsievermoë van diatomiet en die stof daarmee gepaardgaande, moet longsiektes kan veroorsaak soortgelyk aan asbestose, weens die eienskappe soos reeds beskrywe, omdat dit aan longmembrane moet vaskleef, slym op die bors moet veroorsaak, longontsteking, water op die long, verstening van longvliese, asemhalingsprobleme en die inkorting van longkapasiteit en bronchitis.

Pierre van Niekerk © 2015

Advertisements

Soönoses 1: Wurms by honde en mense

Wurms by honde en mense

Eginokokkose, hidatidose of hondeblaaswurmsiekte
1. Die baie klein volwasse lintwurm, Echinococcus granulosis, is ongeveer 5 mm lank en het 3 tot sewe segmente en word in die derm van honde en ander karnivore gevind. Die laaste segment wat honderde eiertjies bevat, breek af as dié volwasse is en word in die mis uitgeskei.
2. Die eiertjies kan in water en voer beland en moet deur ‘n tussengasheer (bv. skaap, bees, vark, hond, bok) ingeneem word.
3. Die eiertjie broei in die dermkanaal van die gasheer uit, die larwes penetreer die dermwand, beland in die bloedstroom en word eerstens in die lewer vasgevang.
4. Ander larwes beweeg tot in die longe, brein, bene, spiere, ens. Hier ontwikkel die parasiet in ‘n blaaswurm (sist) wat ‘n hidatied genoem word.
5. Hierdie blase bevat honderde lintwurmkoppe. Indien ‘n karnivoor rou of gedeeltlik gekookte lewer, longe ens. wat hierdie blase bevat, vreet, sal elkeen van die lintwurm koppies in ‘n volwasse lintwurm ontwikkel.
6. Wanneer ‘n hond ontlas, kan van die lintwurmeiertjies aan die haarkleed vassit. Die hond lek homself en wanneer die mens ‘n hond hanteer of die hond jou lek, kan jy so ‘n eiertjie deur jou mond inneem.
7. Eiertjies kan ook aan die pote van honde vasheg en wanneer die dier teen jou opspring, kan jou hande besmet raak. Vlieё kan ook die eiertjies oordra van hondemis na voedsel of water.
8. Mense wat met eginokokkus-lintwurmeiertjies besmet raak, ontwikkel ook blaaswurms (hidatiedsiste) soos hierbo beskryf.
9. Van die siste kan liters vloeistof bevat. Simptome ontwikkel deurdat druk op die omliggende weefsel (lewer, brein, longe ens.) ontwikkel.
10. Simptome ontwikkel oor jare en kan o.a. die volgende wees: vergrote buik, moeilike asemhaling, spontane frakture, senuweesimptome en kan selfs tot die dood lei. As die sist bars, kan fatale skok ontstaan.
11. Spesialiste sal die siste met skandering kan identifiseer en op behandeling en chirurgiese optrede besluit.
12. Daar word bereken dat daar ongeveer 100 gevalle van hondeblaaswurmsiekte per jaar in Suid-Afrika voorkom.

Voorkoming en beheer van die siekte
1. Honde moet gereeld (gemiddeld 3 tot 4 keer ‘n jaar) ontwurm word met ‘n middel (prasikwantel) wat effektief teen Echinococcus granulosis is.
2. Moet nooit rou afval aan honde voer nie.
3. Slagtings van diere moet onder gekontroleerde omstandighede plaasvind en waar siste gevind word, moet hulle nie oopgesny word nie. Die hele orgaan moet afgekeur en verbrand word. Oppas vir begrawe, want die orgaan kan weer deur honde oopgekrap en gevreet word.
4. Die karkasse van dooie diere moet so gou moontlik verbrand of diep begrawe word.
5. Handhaaf goeie higiёne. Was hande goed nadat met honde gewerk was, om te verhoed dat lintwurmeiers ingeneem word.
6. Inligting oor die gevaar van hondeblaaswurmsiekte moet aan werkers op plase, asook aan die algemene publiek oorgedra word.

Bron:
1. Van den Heever, L.W. en Du Preez, J.H. 1992 Soönoses: Dieresiektes en die mens. Butterworths.
2. Ongedateerde aantekeninge deur DRS. Faffa Malan en Sunelle Strydom

Soönoses 4. Toksoplasmose

Toksoplasmose

Toksoplasmose word veroorsaak deur ‘n protosoa, Toxoplasma gondii. Katte raak dikwels besmet as hulle knaagdiere (rotte en muise) vreet wat met Toxoplasma besmet is. Katte skei oösiste vir ongeveer 3 weke in hulle mis uit nadat hulle die infeksie opgedoen het, waarna hulle immuun raak. H

ierdie oösiste moet eers ‘n proses van sporulasie (vorming van spore) ondergaan, ongeveer 3 dae, voor hulle besmetlik raak. Mense wat in aanraking met katsandbakke kom of katmis in sandputte en dan sodoende oösiste inneem, kan besmet raak. Swanger vroue kan die besmetting aan die fetus oordra.

Simptome by die mens
Gewoonlik geen tekens, maar vergrote limfkliere, koors, asemhalingsprobleme, senuweesimptome en letsels van die oё mag ontwikkel. As die moeder besmet raak tussen 2 en 6 maande van swangerskap kan die fetus besmet raak en die fetus mag afsterf, geaborteer raak en daar mag letsels van die oё en brein ontwikkel. In sekere gevalle mag simptome eers na geboorte sigbaar word.

Voorkoming en beheer
Swanger vroue moet veral versigtig wees vir toksoplasmose. Dra handskoene wanneer met sand, grond en katsandbakke gewerk word. Die oösiste mag onder die naels inkom en dan later in die mond beland.

  • Vermy kontak met katmis en sandbakke. Katmis moet in die toilet afgspoel word.
    Was groente af voordat dit geёet word

Soönoses 3. Hondsdolheid

Hondsdolheid

Hondsdolheid is ‘n dodelike virussiekte wat oorgedra word van diere na mense. Diere wat hondsdolheid het, se geaardhede verander: mak diere word wild en wilde diere word mak.
Mense raak besmet wanneer die virus wat in die besmette dier se speeksel voorkom die liggaam binnedring deur ‘n bytplek, seerplek of slymvliese.

Wat moet gedoen word as jy deur ‘n verdagte dier gebyt word?
• Daar moet probeer word om die verdagte dier te isoleer sodat die dier nie kontak met ander mense of diere kan hê nie – moet egter nie die risiko neem om die hond te probeer isoleer en sodoende gebyt te word nie. Wilde diere moet geskiet word, nie in die kop nie want die brein is nodig vir diagnostiese doeleindes.

• Verwittig jou naaste Staatsveearts of veearts van die geval wat die nodige monsters vir die nodige laboratoriumtoetse sal neem.
• Beskou elke byt deur ‘n hond wat nie uitgelok is nie, as ernstig.
• Indien moontlik laat die bytplek vrylik bloei sodat die virus uitgewas kan word.
• Was die wond ‘n paar keer uit met seep en water
• Gaan sien ‘n medikus, wat met intensiewe voorkomingsbehandeling sal begin, so gou moontlik.

Voorkoming en beheer
Hondsdolheid is ‘n beheerde siekte in terme van die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) en enige verdagte of bevestigde hondsdolheidgeval moet onmiddellik aan u naaste Staatsveearts gerapporteer word. Alle honde moet gereeld teen hondsdolheid ingeёnt word.

Soönoses 2. Ingewandsdwaalwurm

Spoelwurms

Wanneer mense spoelwurmeiers van honde en katte (Toxocara canis, T. cati en Toxascaris leonina) inneem wat besmetlike larwes bevat, migreer hierdie larwes in die interne organe (bv. lewer en milt) asook weefsels (spiere) sonder om in volwasse wurms te ontwikkel. Die larwes veroorsaak weefselskade.

Voorskoolse kinders is veral vatbaar omdat hulle besmette voorwerpe in hulle mond mag plaas. Wees versigtig wanneer wurmbesmette lakterende tewe en hulle welpies hanteer word.

Simptome in mense
Nie-spesifieke simptome soos koors, spierpyne, hoes, asma en eetlusverlies word ondervind. Afhangende van watter orgaan (lewer, longe, oog, brein ens.) aangetas is, word verskeie ander simptome ervaar.

Voorkoming en beheer
• Beoefen goeie persoonlike higiёne soos om die hande te was voor etes.
• Voorkom dat veral kinders kontak het met die mis van honde en katte
• Ontwurm jou honde en katte gereeld. Bespreek die ontwurmingsprogram met jou veearts
• Hou honde en katte uit areas waar kinders speel.
• Verskaf inligting aan die publiek oor die gevare van ingewandsdwaalwurm.

SOÖNOSES 6: ANDER MINDER BEKENDE SOÖNOSES

Ander soönotiese siektes waar honde en katte betrokke by kan wees, is:

• Aspergillose (swam infeksie as gevolg van fungi soos die Aspergillus fumigatus)
• Campylobacter-besmetting (rou groente ens)
• Giardiose (parasitiese siekte as gevolg van ‘n spysverteringstelsel flagellaat oerdier)
• Histoplasmosis (inaseming van spore van ‘n swam dikwels gevind in voël/vlermuis mis)
• Kandidiase (Candida albicans infestasie – sproei)
• Katkrapsiekte
• Kolibasilose (Escherichia coli)
• Leptospirose (ook bekend as ‘field fever’, ‘rat catcher’s yellows’, en ‘pretibial fever’)
• Nokardiose (plaaslike – vel, longe, brein – of verspreide bakteriële infeksie)
• Q-koors (kan opgedoen word van bosluisbyt) en
• Skurfte (kan veroorsaak word deur die skurftemyt Sarcoptes scabiei)

Bron:
Van den Heever, L.W. en Du Preez, J.H. 1992 Soönoses: Dieresiektes en die mens. Butterworths. ISBN 0409 11101 5. Geskryf deur: drs. Faffa Malan en Sunelle Strydom 18 Januarie 2010.
Pierre van Niekerk © 2015

SOÖNOSES 5: Ringwurm of Omlope

Soönoses

 Omlope of ringwurm: Behandeling
Die diagnose van ‘n omloop of ringwurm moet altyd eers bevestig word. Dit word by die veearts onder ‘n lig bevestig en dit is ‘n soonotiese siekte, wat dus van die mens na die dier en ook omgekeer oorgedra word.

Omlope of ringwurm het ‘n kenmerke aard deurdat dit gewoonlik rond voorkom op die vel van ‘n dier, met ‘n rooierige randjie. Jy sal vind dat die vel in die middle redelik normaal voorkom. Die ringwurmletsels brei van die punt van besmetting uit na sy direkte omgewing en kruip dus uit om groter te word. Dit brei ook uit en vermeerder. Dit moet aanvaar word dat dit algemeen in die omgewing is.

Ketazol salf kan by jou apteker gekry word en dit maak die swam vir alle praktiese doeleindes dadelik “dood”. Dit word aanbeveel dat jy dit so tussen 10-14 dae in die wond in sal vryf. Indien die probleem nie opklaar nie of vererger, gaan sien maar liewer jou veearts of dokter. Daar is ander veltoestande, soos in een van die Files hierbo beskrywe, wat ook soos ‘n omloop kan lykmaat ‘n ander veltoestand is, soos ekseem en psoriase.

Omlope word veral in kinders gesien as gevolg van kontak met besmette diere. Spore van hierdie swaminfeksie kan selfs vir jare oorleef. Omlope is ‘n oppervlakkige veltoestand van diere wat mense kan aansteek.Verskeie swamme, Microsporum spp., Trichophyton spp. en Epidermophyton floccosum val die keratienlae (die hoofproteïen van die hare, naels en vel) van mens en dier aan.

Die letsel in mense is gewoonlik rond. In die middel is dit skilferig met korserigheid aan die kante met rooierige inflammasie. Letsels kom gewoonlik op die arms, bene, gesig en kopvel voor. In honde en katte kom die letsels gewoonlik op die vel van die pote en kop voor. In katte kom daar dikwels ‘n subkliniese infeksie voor waar geen tekens van omlope gesien word nie. Daar word dan verkeerdelik deur die eienaar aangeneem dat die kat vry van infeksie is.

Katte kan ook draers wees van omloop en sodoende mense aansteek sonder dat hulle self letsels het. Gaan na u dokter en veearts om ‘n diagnose te maak en behandeling voor te skryf.

Omlope word veral in kinders gesien as gevolg van kontak met besmette diere. Spore van hierdie swaminfeksie kan selfs vir jare oorleef. Omlope is ‘n oppervlakkige veltoestand van diere wat mense kan aansteek. Verskeie swamme – Microsporum spp., Trichophyton spp. en Epidermophyton floccosum val die keratienlae (die hoofproteïen van die hare, naels en vel) van mens en dier aan.

Die letsel in mense is gewoonlik rond. In die middel is dit skilferig met korserigheid aan die kante met rooierige inflammasie. Letsels kom gewoonlik op die arms, bene, gesig en kopvel voor. In honde en katte kom die letsels gewoonlik op die vel van die pote en kop voor.

In katte kom daar dikwels ‘n subkliniese infeksie voor waar geen tekens van omlope gesien word nie. Daar word dan verkeerdelik deur die eienaar aangeneem dat die kat vry van infeksie is. Katte kan ook draers wees van omlope en sodoende mense aansteek sonder dat hulle self letsels het.

Gaan na u dokter en veearts om ‘n diagnose te maak en behandeling voor te skryf.

Voorkoming en beheer
1. Isoleer en behandel besmette diere, veral diere wat in noue kontak met mense is.
2. Vernietig beddegoed van besmette diere om dié as bron van besmetting te verwyder.
3. Steriliseer dikwels borsels en kamme wat u vir u diere gebruik.
4. Verhoog u diere se gesondheidstatus deur vir hulle goeie gebalanseerde kos, wat ook vitamien A bevat, te gee.

Bron:
Van den Heever, L.W. en Du Preez, J.H. 1992 Soönoses: Dieresiektes en die mens. Butterworths. ISBN 0409 11101 5.

Pierre van Niekerk © 2015