Spirocerca Lupi

SPIROCERCA LUPI:  Die “stille moordenaar”

 Spirocercosis word die toestand genoem wat deur die wurm “Spirocerca lupi” veroorsaak word.  Hierdie wurm lewe in die nodules van die oesophagus (ook genoem die “gullet”) wat ‘n gedeelte is van die hond se spysverteringstelsel, ‘n gedeelte tussen die maag en die mond.

Nodules is klein gewassies wat natuurlik in die liggaam voorkom.  Hierdie wurms kan tot 2 jaar lank oorleef in hierdie gewassies, waar hul eiers lê en dit in klein openings van die gewas uitskei, waar dit in ‘n hond se mismonster vasgestel kan word.

Miskruiers (die “Coprophagous beetle”) wat so ‘n belangrike funksie in die Natuur speel, neem hierdie Spirocerca eiers in met die mis wat hul verwerk.  Die eiers ontwikkel in die miskruier na ‘n L1 stadium (wat die eerste larwe stadium is).  Honde word op hierdie metode besmet wanneer hul die miskruiers eet.  Hierdie miskruiers word gemiddeld 6mm groot.  Dit is NIE die wonderlike groot miskruiers wat ons in die algemeen ken nie.

Ontwikkeling

 Nadat die hond die miskruier geëet het, ontwikkel die wurm in die maag van die hond.  Hierdie wurm boor dan deur die maagwand, veroorsaak enorme pyn en ongemak in die maag en beweeg na bloedvate rondom die maag van die dier.

Hierdie wurmlarwes migreer opwaarts binne die wande van die bloedvate, waar hul binne weke deurbeweeg om by die aorta, die hoofslagaar wat die hart verlaat, uitkom.  Hier doen hul enorme skade omdat hul die wande van die aorta verswak en daardeur ‘n aneurisme veroorsaak.

Jong volwasse wurms, wat gewoonlik in stadia L3 en L4 is, migreer dan direk na die slukderm (die “oesophagus”), wat baie naby aan die aorta lê.  Hierdie wurms kan ook na die rugstring toe migreer.  Binne die slukderm vorm hierdie wurms nodules binne die slukderm se wande, waar hul eiers lê en hul lewensiklus van voor af begin.

Tekens

 Simptome en tekens is nie baie duidelik en spesifiek nie omdat die wurmlarwe migreer deur die liggaam se wande en ook vatplek kry in nie-funksionele nodules wat in die liggaam voorkom. Veroorsaak gewigsverlies, naar word en ook braking (“retching”), met ander woorde die aksie om op te gooi sonder om te vomeer.

Hierdie nodules kan ook in kanker omskakel.  Abnormale migrasie van die wurm kan ook verlamming en neurologiese versteurings veroorsaak.  In laat stadiums kan daar ook n verdikking in die voorbene wees.

Skielike sterftes kan voorkom omdat die jong wurms skielike skade aan die aorta en daardeur aneurismes veroorsaak.  Omdat die skade wat hierdie wurm veroorsaak permanent is, kan skielike sterftes aan die aorta steeds gebeur nadat die wurm van die dier se liggaam verwyder is.  Dit is egter skaars omdat die Literatuur bewys dat dit eerder in die vroeë migrerende stadiums gebeur.

Spirocerca Lupi is bekend as die “Laksman”, die “Sniper” of “Silent killer” omdat daar baie min uiterlike tekens is dat die hond siek is.

Volwasse “Spirocerca lupi” is helder rooi wurms – die manlike wurms is sowat 40mm lank en die wyfies is sowat 70mm lank.  Dit het ‘n baie komplekse lewensiklus, wat ‘n finale stadia, ‘n intermediêre en dan ‘n parateniese stadia in ‘n gasheer het.  ‘n Parateniese gasheer is een waar geen ontwikkeling – of geen verdere ontwikkeling – plaasvind nie.

Die finale gasheer van hierdie wurmparasiet is die hond.  Die intermediêre gasheer is byvoorbeeld die miskruier.  Parateniese gashere sluit ‘n verskeidenheid van lewende organismes in.  Hierdie organismes dra by tot die verspreiding van die wurm.  Paddas eet die miskruiers, verskeie akkedissoorte, verskeie voëlsoorte, rotte en muise – alles organismes wat honde vang, eet en jaag.  Honde word dus deur hierdie roete geinfekteer wanneer hul hierdie organismes eet.

Behandeling

 Wurmmiddels wat fokus om die wurm dood te maak in sy larwe stadia, asook binne-in die nodules, is die beste wat die wetenskap tans het.  Wanneer kanker ontstaan het, is die behandeling heel anders.

Dit is ‘n geval waar jou veearts ‘n belangrike rol speel om hierdie dodelike wurm te behandel met spesialis behandeling – onthou altyd voorkoming is beter as beheer.  Milbemax en Advocate Spot-on is nou geregistreer om hierdie wurm te verhoed met gereelde maandelikse behandeling (http://www.aloevets.co.za/spirocerca.html).  Jou veearts mag moontlik behandel met ‘n Ivomec of Dormectin inspuiting na diagnose van besmetting om die larwe en volwasse wurms te vernietig.

 

Dr Liesel van der Merwe, Valley Farm Animal Hospital, Pretoria

 

 

 

Advertisements