Noodhulp vir Troeteldiere

Pierre@Dieregesondheid Noodhulp vir Troeteldiere – sorg dat jy te alle tye die nodige voorraad vir ‘n noodsituasie het!

1. ABORSIE: Die inspuiting wat ‘n gedekte teef kan kry om ‘n ongewenste swangerskap te beëindig is net verkrygbaar deur ‘n veearts en nie almal hou dit in voorraad nie.

2. ABSESSE: Groot spuit met ‘n dik steriele “Witnaald” – beskikbaar by ‘mens’ apteek soos Dischem, wat in gevalle van nood (en te ver weg van jou veearts) in die abses ingedruk kan word. Trek terug, dreineer die abses daarmee en los ‘n gat/opening in die abses om verder te kan dreineer. Behandel met soutwater (9g/2 gelykvol teelepels tafelsout gemeng met 1 liter lou gekookte water) en smeer Pierre se aqueous room en blomswael mengsel op.

3. ANGS: kyk onder Skok.

4. ANTIBIOTIKA vir katte: Doxysyrup of Synulox.

5. ALLERGIEë: kyk onder Kalmeermiddels.

6. BLAASINFEKSIE: kan opgeklaar word deur mespunt sitrussoda op eetlepel lou gekookte water (2 keer/dag vir 3 dae) of Norotrim 24 tablette te gee. Laai asseblief die skrywe af oor “Blaas wat lek” en blaasinfeksies en stoor in jou Dieregesondheidsleêr.

7. BLOED in UITSKEIDING: Dien Lennon se Staaldruppels (of Turlington) 5 druppels 2 keer/dag (groot honde 10 druppels) deur ‘n spuit met Marmite water in, slegs tot enige tekens van ‘inwendige’ bloeding gestop is.

8. BOSLUIS te VERWYDER: Neem bietjie alkohol op ‘n oorstokkie (spiritus), maak net die koppie van die oorstokkie nat dan druk jy dit op hom en teen die vel, smeer dan die blomswael mieks op die plek sodra hy homself loswikkel. Gooi hul maar altyd in ‘n houer met spiritus vir ingeval jy moet saamneem dokter toe.

9. BRAKING: Valoid pediatriese setpille. Dien toe afhangende van die hond se grootte / gewig: Klein hondjies sowat 1/5de van ‘n setpil, middelslag honde sowat 1/3de van ‘n setpil en groter honde sowat 2/3de van ‘n setpil. By alle ‘mens’ apteke te koop. Smeer Vaseline of KY jellie aan en sit in by die anus tot jy die sluitspiere voel saamtrek. BRAKING by Yorkies: Clopamonstroop. Vra jou apteker om jou in die verband advies te gee.

10. BYSTEEK: Smeer allergex salf of soortgelyk aan. Gee Allergex/Texa/10mg Phenergan volgens dier se gewig.

11. DIAREE: kan baie suksesvol behandel word met Norotrim tablette, so nie Lennon se Jamaika Gemmer of Kem-O-Dene – 3 druppels op mespunt suiker en eetlepel lou (vooraf gekookte) water.

a) By braking en diarree vind ontwatering en elektrolietwanbalanse altyd plaas.
b) Gee nartjie Energade (5-10ml, afhangende van die hond se grootte / gewig) m.a.w. klein hondjies 5ml, groter honde 10ml.
c) Kan afwisselend ook elke 15-20 minute Marmite/Oxo/Bovril water ingee (1 teelepel Marmite/Bovril/Oxo gemeng met 1 koppie lou gekookte water).
d) In nood kan bees of hoender geurblokkies of ekstrak ook opgelos word (1 blokkie opgelos in 2 koppies lou gekookte water).
e) Darrows Solution/Pectrolyte/Dehydrate (of soortgelyke middel vir babas) kan ook by apteek verkry word om dehidrasie te voorkom.
f) Rooibostee – sterk swart / sonder suiker, gee vrylik met bietjie (½ teelepel) Protexin in.
g) Plein wit Griekse of Bulgaarse volroom jogurt kan ook vrylik gegee word.
h) ‘n Eie elektrolietmengsel is 9 gram (ongeveer 2 gelykvol teelepels) tafelsout en 4 teelepels suiker gemeng met ‘n liter afgekoelde gekookte water. Gee elke 15 tot 20 minute een van die bogenoemde ‘mengsels’ in.
i) Kan ook elke 20m ‘n vingerlek ‘rou’ heuning in die mond smeer – suiker is giftig vir honde maar in so ‘n geval benodig die maag se mikrobes energie en jy moet verhoed dat die afvalstowwe in die niere/lewer/maag konsentreer en so gou as moontlik uitgeskei word.
j) OM MAAG TE BIND – Vlapoeier of meelblom/Maizena – kwart teelepel op mespunt suiker wat met bietjie lou gekookte water in slap/stywe mengsel aangemaak is (net 10% van dier se massa oor 24 uur). Kook bietjie pampoen in water (sonder sout), maak fyn, roer teelepel Maizena in en voer. Kan ook eetlepel wit jogurt en fyn gekookte hoender en rys bymeng.
k) Sorg altyd dat vars water vir drink beskikbaar is. Voorsien halfgaar hoenderlewer in sagte formaat, klein hoeveelhede en kort-kort. l) GASTRO en/of LOOPMAGIES by katte: Flagyl of Enteritus suspensie.

12. EETLUS te stimuleer: Plein wit Griekse of Bulgaarse volroom jogurt en Promix EM se Probiotika, Protexin om die mikrobes in die maag te stimuleer sodat die dier honger word. Daar is ook Pro-Kolin en wonderlike navorsing begin te voorskyn kom oor Kolostrum. Nutrostim is ‘n hoë kalorie gel wat uitstekende resultate lewer. Kan ook Blue Liquid gee volgens aanwysings.

13. EKSEEM by katte: F10 salf. Kan ook Pierre se aqueousroom en blomswael mengsel probeer.

14. GAAS: Steriele gaasdeppers om tydens behandeling van wonde te gebruik.

15. GIF NOODBEHANDELING – SPOED KAN JOU DIER SE LEWE RED!
15.1 Belangrikste is om die hond heel eerste te laat braak: Gee 15ml peroksied (“Hydrogen peroxide solution B.P. 10 volume 3% m/m”) stadig met ‘n spuit mondelings in OF 1 teelepel waspoeier opgelos in koppie lou gekookte water. Verhoed dat dit in die longe beland. HOU ALTYD ‘n TEELEPEL WASPOEIER REG VIR ‘n NOODGEVAL!
15.2. Na braking gee 5-6 geaktiveerde houtskool tablette in (houtskoolpille) wat te koop is by enige ‘mens’ apteek (‘activated charcoal’) om die oorblywende gif in die maag te neutraliseer/absorbeer. As jy nie het nie – 4 snye witbrood swart verbrand in oond, rol in ‘n ‘pellet’ met klein bietjie lou gekookte water en gee so gou moontlik in, al moet jy dit met jou vinger stadig agter in die keel indruk tot die dier sluk!

a. Met 2-Step of ALDICARB vergiftiging: Bogenoemde twee stappe altyd heel eerste – die teenmiddel hiervoor is Atropien wat slegs deur ʼn veearts toegedien kan word.
b. Met ROTTEGIF: Bogenoemde twee stappe en daarna Kyrovite – ook bekend as Vitamien K – inspuiting en/of Vitamien K tablette volgens voorskrif – by veearts verkrygbaar.
c. Met PADDAS: Volg eerste 2 stappe hierbo – smeer dan klein bietjie vleis sagmaakmiddel (‘meat tenderiser’) op tong/in die kieste om die padda se afskeiding en speeksel se proteïenketting te breek; kan ook pynappelsap gebruik en gee daarna plein wit Griekse of Bulgaarse volroom jogurt en rooibostee swart / sonder suiker.

16. GLASSTUKKE INGESLUK? Neem ‘n sny brood, smeer goed met mayonnaise, neem 4-5 watteballetjies en ‘versprei’ eweredig oor die sny brood, vul weer op met mayonnaise – neem ‘n skêr en knip die sny brood/mayo/watte in 1” vierkantjies en voer vir hond tot hy sluk – die watte sal haak om enige skerp glasstukkies, die mayonnaise sal dit ‘smeer’ soos dit afgaan en ontlasting aanhelp. Gee daarna ook 2-3 eetlepels aptekersparaffien in.

17. HARDLYWIGHEID: Laxapet / Animalax of 1½ teelepel APTEKERS medisinale paraffien (gewone dosis is honde onder 5kg 1 teelepel, bo 5kg 1 eetlepel) en/of gliserien setpil. Kan ook groen koekie Sunlight seep rasper en rol so kwart teelepel met bietjie lou gekookte water op in ‘n ‘pellet’ vir setpil – smeer met Vaseline / KY jellie en sit in anus tot jy die sluitspiere voel saamtrek. Plein wit Griekse / Bulgaarse volroom jogurt met leksel ‘rou’ heuning help ook.

18. HOES : Kennel cough word baie suksesvol behandel met Doxydog tablette. Laai asb. die skrywe af oor Kennel Cough en bêre in jou Dieregesondheidsleêr.

19. IMMUUNSTELSEL te versterk: HONDE: Promix EM Probiotika en Multivitamien, ‘n teelepel olyfolie, 2-3 groot eetlepels plein wit Griekse volroom jogurt, swart sonder suiker rooibostee, kaiings 1-2 daagliks (Yorkies net 1 so 2-3 keer/week). KATTE: Promix EM Probiotika en Multivitamien, olyfolie, Omega 6 olies en plein wit Griekse volroom jogurt met borrie gemeng, Felisine en/of Nutristim.

20. KALMEERMIDDELS en ALLERGIEë: Allergex stroop of pille (klein en medium woefies ½ Allergex; groot woefs een hele Allergex, baie groot rasse 2 pille in ‘n noodgeval). Indien die dier ‘n allergiese uitslag het kan Allergex en/of 10mg Phenergan en/of Texa (nie Prednisone nie) mondelings toegedien word (dosis volgens gewig) en Caladryl Lotion topikaal aangewend word (beide verkrygbaar van die gewone ‘mens’ apteek). Maak pil fyn en smeer aan tandvleise; moenie probeer kamoefleer of verdoesel binne-in ‘n stuk vleis of ‘treat’ nie, dit affekteer die doeltreffendheid daarvan. Vryf ook 3-4 Rescue druppels aan die binnekant van die oorflappe waar jy die aartjies sien om te kalmeer. Jy kan nie oordoseer met Rescue Drops nie.

21. KATGRIEP of PARVO: Die belangrikste is dat dit ‘n virus is en dat niks ‘n virus doodmaak/vernietig nie, dis hoekom dit so krities is dat alle diere ente en spuite op die regte tye moet kry. Jou beste bydrae is om te sorg dat die dier nie ontwater nie. Laai die skrywe oor Parvo af en bêre dit in jou Dieregesondheidsleêr. Mondelingse toediening van elektroliete (soos Darrows Solution) en spesifiek nartjie Energade / Powerade asook Marmite water en Norotrim tablette of Cosumix Plus sal baie help om sekondêre infeksies te keer wat die dier weens die lae immuniteit beleef. Versterk dus ook sy immuunstelsel, veral terwyl hy/sy gesond is.

22. KOORS: Neem yssakkies, draai toe in handdoek en sit op die magie; maak ook lappie nat met koue water en vee magie en binnekant van lieste daarmee af. Kan ook met voete in ‘n houer/bad met koel water laat staan vir ‘n paar minute – onder toesig asb.

23. MAAGPYN/KRAMPE: Buscopan stroop vir baas, Lennon se Jamaika Gemmer of Kem-O-Dene – 3-5 druppels op ‘n mespunt suiker en eetlepel lou gekookte water – gee met spuit in om die elektroliete in die maag te herstel.

24. MAAG en SPYSVERTERING by katte: Protexin.

25. MANGELONTSTEKING: Tonsilla volgens voorskrif – by gewone apteek te kry.

26. MYTE in die ORE: 3% Peroksied, 10 druppels in die oor. Olyfolie, of dan soetolie, Oticleen en dan Otomax is die raad vir myte in die ore. Onthou dat hare in die oorkanaal ook kan veroorsaak dat gis in die ore ontstaan. Verwyder die hare in die oorkanaal. Laai ook die skrywes af oor Oormyte en Oorinfeksies en bêre in jou Dieregesondheidsleêr.

27. MYTE/LUISE by SLANGE: Sproei (‘mist’) die binnekant van ‘n kussingsloop liggies met BioKill, sit die slang in en knoop die sloop toe. Los so tot die volgende dag. Verwyder alles uit die hok en was hok deeglik met ‘n 1 deel Jik, 10 dele water oplossing. Laat goed droog word.

28. NAARHEID: Valoid pediatriese setpille – gewone pediatriese Valoid (vir babas) by jou apteek te koop, maar in verhouding met gewig! Hoeveelheid: baie klein hondjies net ‘n kwart pil; hondjies tot en met 20kg ‘n halwe pil; meer as 20kg ‘n hele pil. Aculoid stroop vir babas is generies maar doen ook wondere.

29. ONTSMETTING van huis en erf – F10 ontsmettingsmiddel.
Tuisgemaakte mengsel: 30ml vanilla essens, 1 eetlepel bloekomolie, 1 eetlepel dettol, 1 eetlepel sitronella of naeltjie olie (opsioneel), 3 koppies water. Meng goed. As dit sukkel om te meng, voeg ‘n paar druppels suurlemoen sap of skottelgoedwasser by. Maak maar jou diere toe as jy dit spuit en moenie op hout spuit nie. Pasop vir die oë! Hou veral katte lank genoeg weg.

30. ONTWATERING / DEHIDRASIE: Kyk onder Diarree.

31. OOG INFEKSIE / ONTSTEKING by katte: Octin, ISEE of ExOcin. ExOcin word ook gebruik in gevalle waar honde se oog se kornea gekrap is.

32. OOG/OË wat seer is: Vitamien A aanvullings in die vorm van lewer en/of pille en inspuitings is baie belangrik. Trek rooibosteesakkie in koppie louwarm gekookte water en spons die oë gereeld met die teesakkie en teewater af – gebruik elke keer ‘n nuwe sakkie en moenie vryf nie. Gewone apteker behoort die regte anitibiotiese salf aan jou te kan verskaf by infeksies.

33. OOG/OË en SLANGE: Wanneer spoegslange die oog getref het, was met enige veilige vloeistof uit soveel as moontlik – lopende water, melk, selfs uriene – en dien daarna Octin oogdruppels toe soos voorgeskryf. Slangbyte sal apart behandel word – die heel beste is dringend na jou veearts!

34. OORMYTE / OORMATIGE WAS by katte: MDB Iver PO word gebruik saam met Clean Ear. Lees die skrywe oor myte van Pierre

35. PYNMIDDELS: Dis geskeduleerde medisyne en moet net onder toesig van ‘n veearts verkry en toegedien word vir ‘n spesifieke geval / situasie. Dit is skadelike medisyne. Pyn is die natuur se manier om ‘n dier te laat rus en die wond/besering kans te gee om natuurlik te herstel. Word die pyn onderdruk, gee die dier die wond nie kans om natuurlik te genees nie en ontsteek dit net verder. Selfs geskeduleerde Rimadyl het newe effekte en kan net deur ‘n veearts na deeglike ondersoek van die dier vir ‘n spesifieke situasie voorgeskryf word.

36. PYN en KOORS by katte (anti-inflammatories): Petcalm.

37. RINGWURM by katte: Ringwurm salf of Pierre se Bolomswawel mieks

38. SKOK en ANGS: Rescue Remedy pilletjies of Calmeze, Allergex, Texa en/of 10mg Phenergan – veral by die skiet van klappers en ook vrees om in ‘n voertuig te ry. Vryf ook 3-4 Rescue druppels aan die binnekant van die oorflappe waar jy die aartjies sien. Jy kan nie oordoseer nie.

39. SPINNEKOPBYT wat groeisel veroorsaak: maak n mengsel van gerasperde groen koekie sunlightseep en bruinsuiker aan met so min moontlik lou gekookte water, eetlepelvol en plaas dit op die wond sodat die vel kan sag word en draai toe; behoort al by Dag 2 so te wees dat sou jy dit net effens trek, dit gaan uitbars. Doen dit net met handskoene aan.

40. SPUITE: plastiek spuite van +-30ml waarmee jy vloeistof ook mondelings kan toedien.

41. STERI-STRIPS: Deesdae word steke in al hoe minder gevalle gebruik – koop ‘n paar Steri-strips by jou apteek om in noodgevalle gereed te hê vir hegting van wonde – kante word gewoonlik oopgelos om behoorlike dreinering te verseker.

42. TANDE: Rooi tandvleise kan dui op infeksie – gee daagliks plein wit Griekse volroom jogurt met Protexin; koop baba tandeborsel en pasta, meng bietjie koeksoda by en borsel elke dag; was ongeskilde wortels deeglik, breek in stukkie en vries – gee elke dag as ‘treat’ om oormatige plaak af te skuur.

43. TANDINFEKSIES by katte: kan nierversaking veroorsaak – maak tande skoon deur met koeksoda te vryf.

44. TERMOMETER: vir die meet van koors. Koors van honde is basies dieselfde as dié van mense.

45. TOPIKALE WONDE op HONDE en KATTE: F10 salf en ook ROU heuning soos beskikbaar by Dischem of direk van ‘n byeboer (nie die stroop wat jy in die supermark koop nie) of die aqueous room en blomswael mengsel verrig wondere.
• Engemycin wondsproei is ‘n baie goeie antibiotika in sproei vorm. Curatex is net by ‘n veearts beskikbaar.
• Avert Bitter kan aangebring word om te keer dat diere hul wonde lek.

46. TWEEZER: Vir gebruik in noodgevalle om bv. glasstukke/angels/penne te verwyder.

47. VITAMIEN AANVULLINGS: Bekom die Promix reeks van mulivitamiene en pro-biotikas. Smeer net aan pels (by katte) sodat die dier dit self inlek.

48. VELPROBLEME / DROë VEL: Smeer in met ‘virgin’ olyfolie of ‘coconut oil’ en na ‘n uur met Pierre se aqueousroom en blomswael mengsel.

49. VEL wat STINK: Dit is waarskynlik dieselfde bakterie wat “happy feet” by mense veroorsaak. Die uitskakeling van die negatiewe bakterie is nodig. Smeer die hele lyf met plein wit Griekse vol/dubbel room jogurt, los vir so ‘n uur sodat die probiotika die negatiewe baktierie op die vel dood en daar ‘n gesonder balans in die vel kom, waar die positiewe bakterie die negatiewe bakterie self beveg. Kom gewoonlik voor wanneer woefe te veel gebad word en die goeie bakterie op die vel daaronder ly. Bad daarna met Propyrepet en spoel af met appelasyn water.

50. VLIEë op ORE: Shoofly of Quadrepel vir honde en perde. Advantix, Exspot, Equiline, Buzz-off of F10 Wondsproei met insekdoder word ook in sommige gevalle gebruik.

51. VLOOIE en BOSLUISE – Die heel beste op die mark is tans “Bravecto” vir honde en “Fiprotec” (Fipronil) vir katte en/of Advocate. Daar is verskeie ander handelsname soos Nexguard ook beskikbaar maar maak seker dat die middel wat jy gebruik, doeltreffende beheer sal verseker en nie nadelig is vir jou dier nie. Katte kan Omega 3 en 6 as aanvulling kry, asook Felisine en Promix reeks produkte om die immuunstelsel te versterk en in geval van Snuffels. Vermy items op supermarkte se rakke asb, dit blyk nie altyd genoegsaam effektiewe beheer te verseker nie.

52. WONDE: Gewone soutoplossing, 9 gram (ongeveer 2 gelykvol teelepels) sout op ‘n liter gekookte afgekoelde water word aanbeveel. Bedek daarna wondarea met ‘rou’ heuning. Laai asseblief die hantering van wonde af as ‘n aparte lêer en stoor dit in jou Gesondheidsleêr of op jou rekenaar. Vir BESMETTE WONDE kan Bactroban/Supiroban (peroksied 3%) opgesit word nadat wond met soutoplossing skoon gespuit is.

53. WONDE by katte: Gebruik Hibitane konsentraat. Pierre se aqueousroom en blomswael werk ook baie goed vir algemene seerplekke op die vel.

54. WURMS / ONTWURMING – Drontal Milbemax Triworm Antezole of Panacur – vermy supermark items aangesien dit nie effektief genoeg blyk te wees om belangrike wurmgroepe te dood nie. Milbemax en Advocate Spot-on is nou geregistreer om ook Spirocerca Lupi (S.Lupi) te voorkom met gereelde maandelikse behandelings. Daar is tans geen Literatuur wat bewyse lewer dat ‘spot-ons’ effektiewe behandeling teen spirocercosis is nie (jou veearts mag moontlik behandel met ‘n Ivomec of Dormectin inspuiting na diagnose van S. Lupi besmetting om die larwe en volwasse wurms te vernietig).

Pierre van Niekerk © 2015

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s